Booktown Richmond
Home of Bookbedonnerd & Madibaland World Literary Festival

Madibaland Online Literary Festival: Christine Barkhuizen-Le Roux

For an expanded view please click on the image above

Christine Barkhuizen-Le Roux is op 18 November 1959 te Vryburg gebore. Sy studeer op Stellenbosch en in 1980 behaal sy ’n BA-graad met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke.

In 1994 en 1999 woon sy die ATKV-Skryfskool onder leiding van professor Hans du Plessis op Potchefstroom by.

In 2000 word haar debuut-digbundel, dimensie, deur Ronnie Belcher van Suiderkollege-Uitgewers gepubliseer. Dit word gunstig deur die meeste kritici en lesers ontvang.  In 2002 behaal Christine haar honneursgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit in 2005 op met ’n Meestersgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met studieleier professor Wium van Zyl.
In 2005 behaal haar kortverhaal "’n Persiese Sprokie" die tweede plek in ’n Nasionale Kortverhaalwedstryd wat deur die Stellenbosch Woordfees en Protea Uitgewers geborg is.

Sy skryf ook artikels en kortverhale vir Insig, en word in Januarie 2006 benoem as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 (vir "’n Persiese Sprokie"). In Maart 2006 verskyn haar debuutkortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, by Lapa Uitgewers en einde Augustus 2006 verskyn haar tweede digbundel ook by Lapa, onder die titel roset.

Tussen 2000 en 2006 word verskeie van Christine se gedigte in Nederlandse publikasies opgeneem, sowel as in Afrikaanse bloemlesings. In 2005 en 2006 verskyn daar ook van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde.
In 2008 slaag sy haar MA in Skeppende Skryfwerk met lof aan die UK met professor Etienne van Heerden as studieleier. Uit hierdie studie vloei Padmaker voort, haar eerste roman, gepubliseer deur Human & Rousseau. Die roman is vir enkele weke op die Nielsen’s lys van topverkope. Dit word ook later deur RSG voorgelees.
Van haar verse is ook deur Andre P. Brink in die nuwe Groot Verseboek opgeneem en ’n kortverhaal “Om te bêre”, is opgeneem in Die groot Afrikaanse Kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham de Vries.

Haar twee kortverhaalbundel, Wat die oog gesien het, verskyn in 2011 by Human en Rousseau, en in dieselfde jaar verskyn haar vertaling van Ingrid vander Veken se boek, Papavers by Lapa.

Hierop volg haar tweede roman, Getuie in 2012 by Human & Rousseau. Ook die roman word op RSG voorgelees.

In 2015 verskyn ’n derde digbundel, skynskadu, by Naledi Uitgewers. In dieselfde jaar verskyn ook die vertaling van Diane Broeckhoven met die titel De Buitenkant van Meneer Jules.

Haar derde roman, Drieklawerblaar, wat in die Klein-Karoo afspeel, verskyn in 2016 en word eweneens in 2020 oor RSG voorgelees.

Hierop volg haar roman My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, in September 2019.

In Januarie 2020 verskyn haar derde vertaling uit Nederlands, geskryf deur Griet Op de Beeck, Kom hier dat ek jou soen by Protea Boekhuis.

’n Kortverhaal “Kind sonder naam” word onlangs in Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek opgeneem deur die samestellers Steward van Wyk en Sonja Loots.
Haar gedigte “laaste wil” word deur Karen de Wet opgeneem in Vers&Vrou.

Christine woon saam met haar man Bertus op ’n plaas 30 km vanaf Barrydale. Hulle het drie kinders: Joané, Albert, en Carli. Die afgesonderde leefwyse op ’n plaas, wat in ’n reis na binne vergestalt, het volgens haar ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk. Dít, tesame met haar buitelandse reise wat kontrasterend op die daaglikse lewe inwerk. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.